Teen R1350/kg is dié nie ‘n gewone tjoppie op die vuur nie

Voor staan Vinesh Moodley met Regina Harmse, Wayne Coetzer (algemene bestuurder Oyster Box Hotel ) en Kevin Joseph (uitvoerende sjef) in die agterste ry. (Foto: Estelle Sinkins)

 

Boervrou Regina Harmse van die RCH Ile de France-stoet in Ermelo het Kevin Joseph, uitvoerende sjef van die Oyster Box Hotel in Umhlanga, sy hand diep in sy sakke laat steek toe hy R1350 moes uithaal vir ‘n kilogram van haar kampioen-lamvleis tydens The Royal Show se karkasveiling.

The Royal Show vind jaarliks in Pietermaritzburg plaas en word beskou as die grootste gemengde landbouskou in Afrika.

Regina is nie ‘n vreemdeling as dit by dié skou kom nie. In 2012 was sy die wenner van die slaglamkompetisie en in 2014 weer eerste in die Europese karkasafdeling.

In 2015 en 2017 stap sy weg as wenner in die Europese en algehele klas.

Regina se wenlamkarkas het volgens die South African Meat Industry Company (SAMIC)-beoordeling ‘n punt van 99.37% behaal en het 23.3 kg uitgeslag.

Regina vertel skertsend van die wenlam wat dit amper nie skou toe gemaak het nie.

Op die vooraand van die skou, het hulle 20 lammers met kolle gemerk wat die volgende oggend gelaai moes word, maar toe die gelaaiery begin, het hulle agtergekom dat een van die lammers ontsnap het.

Regina-hulle het amper moed opgegee, maar eindelik die lam wat net die vorige dag gespeen is, by sy ma opgespoor.

Sy boer sedert 2006 met die Ile de France-ras en op die vraag hoekom nou juis dié ras, antwoord sy “want dit is ‘n mooi ras en ‘n mens boer met ‘n ding waarvan jy hou”.

Regina dien al ses jaar in die Ile de France-telersgenootskap se raad waarvan sy die laaste twee jaar die ondervoorsitter is.

Sy droom groot en werk tans hard om in die nabye toekoms nasionale kampioen te wees.

Interessante feite oor die karkasveiling by The Royal show: In 2007 het die internasionale rekord gespat toe die kampioen-lamkarkas vir R3 000/kg verkoop is; in 2015 het die kampioen-beeskarkas vir ‘n nasionale rekord van R150/kg gesorg; en verlede jaar is die nasionale rekord vir vark ook herskryf toe die bod op die kampioenkarkas op R95/kg toegeslaan is.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

  AUTHOR
Erika Nel
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Service delivery reaches Enyibe