Alles is net genade van Bo

Die Schutte-gesin spreek net van dankbaarheid en die Here se groot genade na hulle verlede week in die vroeë oggendure net kon toekyk hoe hul huis deur vlamme verswelg word.

Dit was omstreeks 04:00 toe die brand vermoedelik begin het met ‘n muskietkers wat omgeval het.

Susan vertel dat sy wakker geword het van ‘n geskarrel in haar seun se slaapkamer. Sy het toe opgestaan om uit te vind wat aangaan en dis toe dat sy haar seun kry wat sonder sukses probeer om die vlamme te blus.

Susan het besef dat die vuur vinnig versprei en dat almal dadelik uit die huis uit moet kom.
Op pad buite toe, het sy ACSU ontbied en skreeuend die bure se aandag probeer kry om te help.

Susan vertel dat die vuur binne ‘n paar minute buite beheer geraak het en sy onthou die geluide wat soos harde geweerskote weergalm het.

“Alle eer aan ons Jesus Christus wat ons gespaar het en ons is dankbaar vir sy genade. Ons hele gesin en huishulp, Sihle, het lewend uit die brandende huis gekom. Die aardse besittings wat ons verloor het is niks teenoor almal wat veilig is nie. ”

Haar seun het brandwonde aan sy hande en linkerbeen opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Die boonste vloer van die huis is heeltemal verwoes en daar is net water -en rookskade op die grondvloer.

Susan praat met groot lof van almal wat hul bygestaan het en vir hulle skoene, kouse en komberse gebring het terwyl hulle op die sypaadjie gestaan en toekyk het.

Sy onthou ook die twee brandweermanne wat hul lewens gewaag het om die trappe op te gaan en die motorsleutels en haar man, Eugene, se skootrekenaar uit die vlamme te red en sy het die hele tyd geweet dat die Here in beheer is.

Die Schuttes het twee jaar gelede na Ermelo verhuis en Susan sê hulle het ongelooflike warmte van die gemeenskap ervaar.

Vir Thinus en sy vrou in wie se huis hulle die voorreg gehad het om twee jaar in te woon; vir elkeen wat skoene, klere, kos en komberse gebring het; vir die brandweermanne en Acsu-lede; vir elke gebed en vriende wat hulle huisves en sorg dat alles wat nie in die brand verwoes is nie, skoongemaak word en veilig gestoor word, sê Susan:.

” Mag julle almal honderdvoudig terugontvang wat julle in ons lewe gesaai het.”

Ten spyte van hul teëspoed, is hulle harte steeds oop vir hul medemens en dink Susan aan die mense in Knysna wat alles met die onlangse brande verloor het.

Dit is duidelik wanneer sy, onbewus dat iemand staan en luister, ‘n weldoener op die foon bedank vir wat hulle wil gee en die aanbod van die hand wys met ‘n versoek dat hulle dit eerder vir die Knysna-slagoffers stuur wat dit meer nodig het as hulle.

Susan glo dat ‘n sterk getuienis uit die voorval gaan spruit en dat alles reeds besig is om ten goede uit te draai.

Sy sluit af met ‘n aanhaling uit Openbaring 12:11 ” Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

  AUTHOR
Erika Nel
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
13 benefits of Gelatin: A Collagen Protein