Kersoordenking deur dr. Frans Boshoff

Skriflesing: Sagaria 9: 9-17

“Verheug jou…. o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou….”

Kersfees het ’n groot wêreldfees geword.

Daar is nie nog ’n feesgeleentheid wat so dwarsoor die wêreld tot in die verste uithoeke gevier word nie.

Die feesvieringe neem verskillende vorms aan.

Baie verskillende fasette word beklemtoon.

Daar is byvoorbeeld die mitologiese Kersvader met ’n rooi mus en ’n wit baard wat geskenke uitdeel.

Kersfeestyd is ook inkopietyd want almal moet ’n geskenk kry.

Kersfeestyd word geassosieer met vakansie.

Almal wil êrens heen gaan.

Families doen moeite om bymekaar te kom vir Kersfees.

In die kerk is daar ook sterk tradisie rondom Kersfees.

Kersfeesliedere word gesing.

Die bekende “Stille Nag ” klink oral op, nie net hier in Afrikaans nie, maar dwarsoor die wêreld in byna al die tale.

Daar is ook die bekende Skrifgedeeltes waarna in dié tyd geluister word.

Ons hoor die verhale oor die nederige geboorte in Bethlehemstal, die engelekoor, die groot ster, die herders, die wyses en die baba in die krip.

Dié is alles aangrypende gebeure wat mense deur die geskiedenis heen aangeraak, geïnspireer en meegevoer het.

Weens dié sterk kersfeestradisie is dit dus onverwags as die Skriflesing gevind word in die Ou Testament in die boek van ’n onbekende profeet, Sagaria.

Sagaria se woorde is juis gekies omdat hier nog ’n faset van Kersfees na vore kom, ’n faset wat maklik vergete kan raak.

Volgens Sagaria is Kersfees in werklikheid ’n Beloftedag.

Kersfees bind twee beloftes aanmekaar, ’n ou, eerste belofte en ’n nuwe, tweede belofte.

Die eerste belofte het tot ’n einde gekom op daardie eerste Kersdag in Bethlehem.

Die eerste belofte gaan so ver terug as die paradys.

Ná die eerste ongehoorsaamheid van die mens het die Here God belowe dat die kop van die slang vermorsel sal word.

Dié belofte is telkens herhaal, aan Abraham, aan Dawid, later het die profete meer besonderhede gegee.

Miga kondig eeue tevore aan presies waar die belofte vervul sou word “Maar jy Bethlehem -Efrata.. (Miga 5:1).

Sagaria brei verder uit op die belofte “Jubel, Sion! Juig Jeruslem! Jou koning sal na jou toe kom… hy is oorwinnaar, hy is rederig en hy ry op ’n donkie…”

En toe 500 jaar na Sagaria se woorde word dié belofte betaal en vervul.

Dit word werklikheid juis in Bethlehem.

Die eerste Kersfeesdag!

Kersfeesdag is daarom dus ook Beloftedag want die eerste belofte in nou betaal, afgehandel.

Kersfees is egter ook die eerste dag van die tweede, nuwe belofte.

Dis die belofte van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.

Mag dié Kersfees ons ook weer vorentoe laat kyk na die nuwe lewe saam met die Koning, die Verlosser, Die Oorwinnaar, Jesus Christus.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

  AUTHOR
Sanette Botha
Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Willie se rugbyseisoen nog nie verby